De Beers, BYD & Bitcoin
En hoekom ons dit heeltemal verkeerd gekry het 🤦♂️
Goeiemôre: Gister skryf ons oor hoe olie nie regtig beïnvloed was Sondag deur die gebeure in Iran nie. Toe skeduleer ons die e-pos vir die volgende oggend, en natuurlik reageer die olieprys in die Noordsee (Brent) én die Amerikaanse olievelde (WTI) - beide het tot 9% gespring. 📈
In die volgende 3 minute en 10 sekondes: De Beers sluit ’n myn, BYD nou makliker bekombaar, en hoekom Maandag goed was vir Bitcoin.
⛏️ De Beers-myn kry ’n timeout
Die storie wat kleur bring aan andersins vervelige sakestories: De Beers (JSE:AGL ▲ 1.2%) gaan sy Venetia-myn buite Musina vir twee jaar toemaak as deel van ‘n desperate plan om kostes te sny.
💎 Hoekom? Die diamantbedryf sit met ’n massiewe babelas: Chinese verbruikers koop minder, en goedkoop lab-grown diamante vreet aan hul markaandeel. De Beers probeer al lank om pryse hoog te hou deur minder te produseer, maar ’n oorvloed klippies uit Angola (én ’n swak vraag) maak dit ’n verlore stryd.
Hulle verduideliking? De Beers sê die mynsluiting gaan nie hul algehele produksie raak nie, maar dit bly ’n teken dat die “skaarsheid” van diamante vinnig besig is om ‘n mite te word.
Blykbaar is diamante net vir ewig totdat iemand besluit om hulle in ’n mikrogolfoond te kweek.
⚡ Ry elektries sonder om jou bankrekening te short-circuit
Ek loer al vir ’n ruk na daai BYD bakkies (BYD 0.00%↑) wat in Rosebank rondry, maar my sakrekenaar wonder elke keer of die economics sin maak. Wel, Volkskas Absa (JSE:ABG ▼ 0,54%) het pas die besluit vir ons gemaak.
💰 Die groot skuif? Die vyftig-randjies-vir-jou bank gaan jou toelaat om kleiner paaiemente te betaal wat beter by ’n EV se waardevermindering pas. En hulle gooi ook ’n Guaranteed Future Value (GFV) in – bankpraat vir: “Moenie stres nie, ons belowe die kar gaan nie oor drie jaar net twee Airfryers werd wees nie.”
As dit werk, kan Absa dalk die eerste bank wees wat EV’s van ‘n gespreksonderwerp by ‘n braai na iets verander wat mense regtig koop.
🙌 Bitcoin terug in die groen
Bitcoin (BTC ▲ 0.6%) wys middel-Julie weer sy tande. Ná ’n doodse stilte vroeër vanjaar, lyk dit asof die momentum terug is in die kripto-mark te danke aan:
Die ETF-liefde: Institusionele beleggers begin weer ’n stewige stroom geld belê in die blikbrein, wat beteken “groot honde” glo weer in dié storie.
Die Julie-vibe: Histories is Julie een van die maande waar Bitcoin sy beste vertonings lewer. Kleinbeleggers begin weer die FOMO voel, en ons weet almal wat gebeur wanneer die massas begin dink hulle gaan die boot mis.
⏱️ Psigologiese horlosie: In die kripto-wêreld is ronde syfers nie net nommers nie; dit is plekke waar beleggers emosioneel raak. Hou $65 000 dop. Dit is die groot weerstandsvlak. As Bitcoin (weer) daardie muur kan breek, is die pad oop om weer met sy historiese hoogtepunte te flankeer.
Bitcoin is soos daai eks wat elke keer as jy dink dit is verby, terugkom met ’n nuwe “groot plan”.
Meer, môre.




