Hoe lees jy nuus?
e.flix en Stellenbosch se duurste berg nou oop vir besigheid
As jy nog nie het nie, voltooi asseblief ons opname oor jou nuusgewoontes. Hierdie nuusbrief is deel van ’n groter eksperiment, en ons het alle moontlike terugvoer broodnodig: voltooi dit hier.
In vandag se nuusbrief: Die hof sê ja vir Botmaskop-kastele en nee vir SIG se swak tydsberekening; AI word mens, en Netflix kry e.tv.
Geniet die volgende 4 minute en 2 sekondes:
R36 miljoen vir ’n mooi uitsig
Stellenbosse omies (en tannies) het probeer om ’n luukse ontwikkeling teen Botmaskop met ’n hofaansoek in die wiele te ry. In ’n langdradige uitspraak het die hof nie net hulle aansoek verwerp nie, maar ook met ’n bestraffende kostebevel getref. Vat so!
🏗️ Die rede? Die Stellenbosch Interest Group (hoe oorspronklik) was “wholly defective” en glo so laat met wysigings tot hulle aansoek (ek bedoel, Stellenbossers is áltyd laat) dat die hof nie eers tyd gehad het vir hul gesukkel nie. Die ontwikkelaars, wat erwe vir tot R36 miljoen verkoop, kan nou amptelik begin bou. Die regter het selfs bevind dat die landgoed ‘n laer impak op die omgewing gaan hê as die oorspronklike hotelplan wat jare gelede goedgekeur is. So much for hierdie apparent Carte Blanche exposé.
Stellenbosse berghange word blykbaar net beskerm teen gewone mense, nie teen mense met R36 miljoen nie.
Gaan lees ook Stellenbosser Johan Fourie se hot take:
Die einde van "Hey Siri?"
Vir dekades belowe Hollywood ons gaan eendag met rekenaars gesels soos met mense. Daardie dag is ongemaklik naby.
💬 OpenAI het GPT-Live bekendgestel, ’n nuwe stemmodus wat nie meer wag dat jy klaar praat voordat hy antwoord nie. Hy luister, val jou in die rede met “mhm”, laat jou dink sonder om die stilte ongemaklik te maak - én kan selfs tussen tale vertaal terwyl die gesprek aanhou. Dit kom nadat die Trump-administrasie GPT-5.6 vir ’n rukkie in die yskas gehou het weens "cyber-vrese". (Is ons veronderstel om bang te wees?)
Die vreemdste deel? As jou vraag te ingewikkeld raak, gee hy dit stilletjies vir ‘n slimmer AI agter die skerms om dan namens OpenAI op te los. Hoe meer menslik dit klink, hoe makliker gaan ons sy/haar/die ding se antwoorde glo. En aangesien hierdie modelle steeds net so gereeld "hallucineer" (lees: lieg) soos enige ander AI, gaan ons nou net met meer selfvertroue gekul word.
Dis die ultimate AI-paradoks: hoe meer dit soos 'n mens klink, hoe minder kan jy dit vertrou.
Ons begin ’n podcast oor AI in Afrikaans. Waaroor wil jy weet? Laat ’n comment hieronder!
e.tv kom na Netflix
Vir jare was Netflix NFLX 0.00%↑ die rede hoekom mense nie meer e.tv JSE:HCI (▲ 0.1%) kyk nie. Nou doen hulle besigheid saam.
📺 eMedia het aangekondig dat van sy oorspronklike programme voortaan ook op Netflix beskikbaar gaan wees. (Sorry as jy gedink het dit sluit Emmanuelle Kelders van Geheime in). Die eerste program is The Four of Us, waarvan nuwe episodes reeds die dag ná hul e.tv-uitsending op Netflix sal verskyn.
Ok maar hoekom? Vir eMedia is dit ’n manier om die lewensduur en kommersiële waarde van hul produksies te rek sonder om hul kerngehoor op gratis TV te verwaarloos. Vir Netflix is dit ’n strategiese skuif om hul inhoud-pipeline in Afrika te verdiep deur saam te werk met uitsaaiers wat reeds weet wat die plaaslike mark wil hê.
Die grootste wenner is waarskynlik jou ma, wat nou nie meer hoef te onthou op watter kanaal haar sepies is nie. Maar ook: kan iemand Mina Moe aan Netflix verkoop asseblief?
Gaan luister na ons podcast oor Trump en Iran - wat waarskynlik vir maande nog relevant gaan wees:
Tot môre!






